Droogte breek vandag op soveel verskillende maniere

Die gedagte vlieg vanmôre by my verby, maar ek gee eers nie aandag nie. Toe hy weer verby kom, gryp ek hom nader. Jy is ‘n goeie plan! Ons is klaar met die vreemdste skoolkwartaal. Een vol verassings en uitdagings en groot en klein oorwinning’kies. Klaar met eksamen. ONS IS OP VAKANSIEEEEEE! Waarvoor wag ons?! Let’s go!

Pot sop, waterbootse en ‘n voltenk later en daar gaan ons!

Ons gat ry swaai swaai oor die snotterige pad. Ek praat bietjie Frans so tussendeur die gly en my tweejarige echo die woord in veelvoude terug. Nicholas help uit: ‘Nee Rumi, dis nie fokkit nie, dis chocolate!’ Nicholas staan verder sy man langs sy ma en vra of hy nie eerder moet bestuur nie. Oh goodness, die kind is rerig bang. Ek sal nou moet oorsit in ‘n ander gear.

Omdraai, nie ‘n manier nie. My trots in my sak steek en wag vir hulp, not a chance. Dis my pad die. Ek ken hom. Ek het hom vir 6 nat jare gery, alleen met baba langs my en binne my. Ek knyp my oë vir ‘n oomblik toe en vra saggies: ‘Hoe nou Harold?’ Die droogte was so lank ek het my voeling vir ‘n nat grondpad verloor, helemal. Ek wag geduldig vir onthou om terug te kom terwyl die Pajero stadig maar seker vorentoe swaai swaai oor die pad. Ek is nie bang nie, my hart klop nie eens vinnig nie, maar so kan ons die vet weet nie end uit gly nie. Soos manna uit die hemel val die reën sag maar seker en saam met dit die beeld van Harold agter ‘n stuurwiel. En daar die onthou van kleeeeeein klein draaitjies na links en regs met die stuurwiel. Dankie Harold! Ek voel van altyd af veilig met jou agter die stuur van sake, selfs net die idee van jou agter ‘n kar se stuurwiel is nou genoeg. ‘JA! beaam Nicholas sy ma se nuwe beheer oor die voertuig, ‘Pappa maak ook altyd so.’ Ok Good. Jy het meer saam met jou Pa op nat grondpaaie ver van die huis gereis oor die afgelope jare, my kind. Jy sal weet.

Ons land eindelik veilig aan op VanRhynshoek. My opwinding net so hoog soos die kinders sin. Hulle sin om sneeu te sien, myne om mans te sien. Mans wat berg uit kan bestuur. Halleluja! Die verligting!

En toe om sneeu, die wit na die swart, die liefde na die seer, die lag na die huil alles saam te mag waardeer. Diep spore trap ons in ‘n spierwit landskap. En ek voel dankbaar en lief vir ‘n man wat vanaand ‘n ander grondpad vir ons gesin ry ver, ver van hier. Hierdie is nie meer ons grondpad nie. Ons is maar net gaste op sy weë.

Droogte breek vandag op soveel verskillende maniere.

Scroll to Top